Dierdre Jonker Onbekend
 
jou guitigheid trek weer streep
en dot stippellyne teen blou
in wit
en teken malse prentjies
in gewraakte rit

‘n klaaglied word gesing in bariton
wat in oogwink sopraan weerklink
in soek en vind
maar wispelturig soos net jy
my wind

jy wapper jou bui
teen elke maspaal vas
en woeker met jou eenmanspeel
in branders wat kwistig breek
verbrokkel uitasem elke ongeskrewe reël

in skeure en om hoeke
neul jy ou-asem wat spookplek soek
krap en torring plate en geute los
en sny soos ‘n skerpgemaakte mes
hitte uit my ribbes los

my wind
waar hardloop jy dan heen
as jy vroegdag reeds oor en oor verjaar
waarheen spoed jy voort
altyd, altyd onklaar?

© Dierdre Jonker

 
Sluit Aan By Ons Groep - Solovlug