|
|
|
|
|
| |
A.G.Visser |
| |
Sê-Nou |
| |
|
| |
Sê-nou
is n lekker sê:
Alles wat n mens wil hê,
alles wat jou hart begeer,
kry jy daarmee en nog meer.
Nooit kan jou die tyd verveel
as jy altyd sê-nou speel.
sê-nou, sê ek aan my maat
toe ons saam loop langs die straat,
sê, byvoorbeeld, elke iets
van n motor tot n fiets,
perdekar of ossewa,
ryperd wat sy ruiter dra
alles waarop mense ry,
kom onsigbaar hier verby,
net die mense wat n klug!
trek dan sit-sit deur die lug,
ooms te perd met lange baard
wip-wip luglangs doodbedaard;
snaaks sou wees die trem-wa daar,
twee verdiepings op mekaar;
maar die baie-sukkel trap
lyk my nog die grootste grap
as jy net die fietser sien
maar geen spoor van sy masjien!
Sê-nou, antwoord toe my maat,
jy hou op met onsin praat;
jy moet na die dokter gaan
met jou kop: daar skeel iets aan:
Sulke mal gedagtes kry
kom van mallemole ry! |
| |
|
| |
|
|
|
|