Waar
ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim, waar
aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;
waar
grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal;
waar
oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag
daar
knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggos antwoord hard met skelbasuin.
Die
dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.
Skuins
glip 'n voet en drillend val 'n roer...
'n skerp geskuur 'n pad wat afwaarts voer.
Twee
hande gryp 'n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: Here, help!
Twee
vader-oë kyk verward...sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.
Die
kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.
En
dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.
'n
Riem rol na die seun daaronder neer,
Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.
Maar
dis vergeefs...die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.
En
hulp snel by...die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.
Dan
klaag daar uit die diepte, sag en flou:
Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...
'n
Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.
Vas
lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans 'n afloop-traan.
Vergeef
my, God!...n skoot gedemp en dof...
en bo die bergegraf styg kruit en stof.
Nog
skuur iets roglend in die diepte daar,
dis stil...die aasvoëls kras...n vader staar. |