Ingrid Jonker
  Ontvlugting
   
  Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:

Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swatsikas in 'n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoel wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as 'n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk le uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.